Thembelisha Kinderhuis

Die Tembelisha (wat Nuwe Hoop beteken) kinderhuis in Mamelodi huisves 12 kinders wat ingevolge die bepalings van die kinderwet daar geplaas is.  Hierdie kinderhuis is deel van uMephi – voorheen bekend as die AGS Welsynraad.
Ons gemeente is vir die afgelope paar jaar op verskillende maniere by hierdie kinderhuis betrokke. Hul grootste behoefte is aan uitstappies – ons het al saam met hulle piekniek gehou, hulle dieretuin toe geneem en ook saam met hulle gaan fliek. Hulle het ook al ons tieners by Horison besoek vir ‘n video-aand. Ons het ook al vir die kinders by ‘n paar geleenthede klere gekoop. Daar was ook al skenkings van ‘n yskas, blinders, matte en plaveisel.  Daar is ook individue in die gemeente wat vir die kinders per geleentheid ‘n geskenkie met ‘n verjaardag stuur.
Hierdie kinders het nodig om die liefde van die Here te ervaar, want hulle het nog net verwerping in hul lewens beleef. Ons gemeente speel ‘n geweldige groot rol daarin om Christus se liefde vir hulle op ‘n tasbare manier oor te dra.
Indien u voel dat u in hierdie kinders se lewens wil inbou, is daar verskeie maniere om betrokke te raak: Eerstens is daar lysies by die kerk beskikbaar met nie-bederfbare kruideniersware wat tussen R100 en R150 kos. U kan so ‘n lysie saamneem en dit, saam met die kruideniersware, die volgende Sondag terugbring na die kerk. Ons sal verseker dat dit by die huisma afgelewer word. U is natuurlik welkom om dit self te gaan aflewer as u die huisma en kinders graag wil ontmoet. Pastoor Jurie O’Connell kan die nodige reëlings tref en u van padaanwysings verskaf. Tweedens, kan u spesifiek bydra tot die insameling vir die seevakansie van September. Plaas ‘n koevertjie gemerk “Thembelisha seefonds” in ‘n offerandesakkie tydens ‘n diens of klik op die “Kontak Ons” skakel vir bankbesonderhede. Onthou om “Thembelisha seefonds” as verwysing te gebruik. Laastens, indien u op ‘n meer persoonlike vlak met die kinders wil werk, kontak die kerkkantoor of pastoor Jurie vir meer inligting rakende hierdie proses. Ons sal u tydens afkondigings in kennis stel van datums en tye rakende groot geleenthede soos die kerspartytjie. Almal is welkom!